Johanna Brandt Profesieë


This page is only available in afrikaans

Die volgende is 'n gedeelte uit die voorspellings van Johanna Brandt. Dit is 'n verkorte weergawe van die boeke, Die Millennium(1918), The Millenium-A Propetic Message to the Native Tribes of South Africa (May 1918)


Voorwoord

As pastoriemoeder van die Hervormde Kerk het Johanna Brandt op 1 Desember 1916 'n merkwaardige ondervinding gehad terwyl sy langs haar moeder se sterfbed gewaak het.
'n Engel het aan haar verskyn en in vyf visioene aan haar 'n reeks ontstellende gebeure openbaar waarvoor Suid Afrika hom nog sou moes klaarmaak.

Die visioene van JOHANNA BRANDT word nou vir die eerste keer in meer as 80 jaar weer aan die lesers beskikbaar gestel.


Johanna Brandt Skakel

Toekoms van Suid Afrika


Suid Afrika, JAHWEH(God) se pêrel

Die feit dat Suid Afrika nie so erg sou deurloop as die res van die wêreld nie, was darem 'n troos. Die Boodskapper het aan Johanna gesê dis omdat God Suid Afrika gekies het as 'n spesiale instrument waardeur die hele wêreld geseën sou word. Hy het ook 'n spesiale waarskuwing met 'n besondere doel aan die mense van hierdie land gerig.

Maar weet dit, het die Engel aan haar gesê, hierdie Boodskap van profetiese waarskuwing sal eerder deur die eenvoudige en onbedorwe mense van die wêreld geglo word, en wanneer die tyd kom vir die profetiese rampe vir hierdie land om vervul te word, sal die ganse wêreld sien hoe deeglik julle voorbereid is en hoe goed julle daartoe in staat is om jul probleme die hoof te bied. Hulle sal sien dat julle dapper is en ten volle vertrou in die aangesig van die grootste gevare, dat julle kalm bly onder die siedende woede van die storm, dat julle jul plig doen ten spyte van die gevare en beproewinge, en hulle sal die getuienis van julle voorbeeld aanvaar en gedwing word om dit te volg sodat hulle gered kan word op die Groot Dag wat gaan kom.

God ontferm Hom oor Suid Afrika! het Johanna besef, maar dis nie al nie - daar is ook voorwaardes en verantwoordelikhede wat by die volk berus. Sy gaan dan voort: "O volk van Suid Afrika, groot is die offer wat van jou gevra word! Groot die verantwoordelikheid wat op jou rus! Jy sal die boodskap deur die geloof alleen aanneem, sonder bewys, sonder hoër outoriteit van die geskrewe woord - maar die wêreld sal dit aanneem deur die getuienis van die vervulling van die profesieë van die rampe wat oor jou moet kom! Deur jou lyding dus!"
Die offer waarna sy verwys en wat van Suid Afrika gevra word, is die offer van volkome geloof. Suid Afrika is 'n pêrel in die oë van ons Heer, het die Boodskapper haar meegedeel. Want hier in Suid Afrika sal die eerste groot wonders van die nuwe eeu van Openbaring plaasvind. Deur Suid Afrika sal die wêreld gedwing word om te glo dat die Wederkoms van die Saligmaker op hande is.

Dan gaan sy verder: "'n Pragtige lig, nie van hierdie wêreld nie, het oor die troostelose toneel gespoel en ek het in verwonderde eerbied gestaar. Ek het die glorieryke en verhewe Teenwoordigheid van ons geliefde Meester in ons midde gesien - hier in Suid Afrika. En dit was die hele betekenis van die visioene wat ek gesien het - dat Jesus Christus onse God na ons sal kom wanneer die storms van suiwering en voorbereiding verby is en die mense se harte deur lyding gereed gemaak is om Hom te ontmoet."

Die Wederkoms van Christus na die nag van storm, skryf Johanna, sal met groot verrassings gepaard gaan, want die nederige en veragte sal verhoog word, en die hovaardige sal tot in die stof verneder word.
In hierdie stryd tussen Lig en Duisternis, word menslike werktuie aan beide kante gebruik. En hulle is gewillige werktuie. Daar is nie so iets soos dwang nie, vrywillig kies ons elkeen die kant waar ons wil staan. Daarvoor het God die stem van die gewete in ons binneste geskep. Ons weet dus dat in hierdie laaste stryd tussen goed en kwaad ons self besluit waar ons wil staan."
Na hierdie nag van verskrikking, het sy die dag sien breek, en dit was asof die Hemel oor Suid Afrika neergedaal het...